Die Ander Dogter
Annie Ernaux (1940 - ) vind op tienjarige ouderdom uit dat sy 'n ouer suster gehad het. Dit is egter eers wanneer die uitgewer Claire Debru haar nooi om by te dra tot 'n versameling "fiktiewe briewe", na aanleiding van Franz Kafka se "Brief aan sy vader", dat sy die bestaan van klein Ginette erken en sodoende 'n familiegeheim openbaar. "L'autre fille" of "Die ander dogter" het ook in twee dramaproduksies in Frankryk gestalte gekry en is in Frans beskikbaar as 'n oudioboek wat deur die skryfster self voorgelees word. Woorde "wek" in meer as een opsig: hierdie is 'n teks wat 'n ses-jarige kind vir die lees daarvan (byna) uit die dood opwek.
"Want ek moes steeds sin maak van hierdie misterieuse teenstrydigheid: dat jy, die soet dogtertjie, die klein heilige, nie gered is nie; dat ek, die klein duiwel, lewendig was. Meer as net lewendig: genees deur 'n wonderwerk.
Dus moet dit so gebeur dat jy op sesjarige ouderdom sterf sodat ek gebore en gered kon word.
Om die verhaal van daardie verhaal te vertel, beteken dat dit wat 'n mens beleef het, nie meer in sagte fokus is nie, byna asof jy begin om 'n film te ontwikkel wat al sestig jaar in 'n kas bewaar word en waarvan daar nog nooit afdrukke gemaak is nie."
~ Vertaal deur Naòmi Morgan
Once the user has seen at least one product this snippet will be visible.